‘Ysbere’ swem, bibber vir liefdadigheid
19 Julie 2019
Daar is Saterdagmiddag weer gebibber toe 425 mense by die Bundukamp naby Ventersburg aangetree het vir die jaarlikse Ysbeerswem.
Die Vrystaatse winter was die swemmers genadig en hulle kon op ’n amperse somersdag die ysige waters van die Sandrivier aandurf.
Felix Burri, hooforganiseerder, het kort voor die swem sy baard opgeveil ten bate van Veterane Hoop, ’n projek ten bate van veterane van die Grensoorlog.
Burri, wat Saterdag 60 jaar oud geword het, se baard is vir R4 900 verkoop.
“Maar toe vang hulle my met ’n slap riem en veil my hare ook ten bate van die veterane op vir R1 600,” sê Burri.
“Ek het op een dag van Jopie Adam na ’n tronkvoël verander.”
Burri sê hy beplan om totdat hy 70 word self nog te swem. Die oudste deelnemer Saterdag was Johan Pretorius (68) van Virginia.
Kinders moet ouer as tien wees om te kan deelneem.
Burri en nog 13 swemmers het wéér Saterdagaand kort voor middernag aangetree – vir die eerste nagswem nog. Burri sê dit was deksels koud want dit was vriespunt terwyl die water so 8 °C was. ’n Groot kampvuur en ’n wonderlike gees het almal weer laat warm kry, sê hy.