• Home
  • Histories
  • Haasbroek, Dr. Hannes - Die Swembadgeskiedenis van Bloemfontein

Die Swembadgeskiedenis van Bloemfontein


deur Dr. Hannes Haasbroek

Volksblad · 9 Jul 2015


Dr. Hannes Haasbroek, ’n hoofspesialiswetenskaplike by die Nasionale Museum in Bloemfontein, se nuwe boek, Splinters en Dorings uit die Rosestad se verlede het pas verskyn.

As historikus van die Nasionale Museum in Bloemfontein, is dr. Hannes Haasbroek, met altesaam 35 jaar se ondervinding by dié museum, ’n lopende ensiklopedie oor verhale uit die “onwikkelingsgeskiedenis” van Bloemfontein én sy mense.

Sy vierde boek Splinters en Dorings uit die Rosestad se verlede (uitgegee deur Sun Media) is nuut op die rak. Elk van die 38 hoofstukke gaan oor ’n besondere sage in Bloemfontein se verlede.

Haasbroek waarsku mense moet hulle nie laat mislei deur Bloemfontein se oënskynlik rustige plattelandse atmosfeer nie, “omdat daar onder dié oppervlak splinter- en doringverhale is wat die leser se oë sal laat rek”.

Een van dié interessante stories in die boek is oor pres. J.P. Hoffman, eerste president van die Republiek van die OranjeVrystaat, wat ’n vaatjie kruit aan die Lesotho-koning, Moshoeshoe, geskenk het.

Homan het hierna die tuig onwillig neergelê, omdat sommige Volksraadslede dit as verraad beskou het. Die rig van ’n kanon op die presidentswoning het sy bedankingsproses versnel.

Bloemfontein swem

 Aanvaarbare swemdrag in Bloemfonetin se vroëge dae.

Swembad-regulasies om Bloemfontein se “kuisheid” te handhaaf is die onderwerp van ’n ander hoofstuk. “Van 1907 met die ontstaan van die eerste munisipale swembad (later die Arthur Nathanswembad), was daar ’n hewige debat oor die toelaatbaarheid van saambaaiery vir mans en vroue. Die destydse hoof van die Hoër Meisieskool Eunice kon nie verstaan waaroor die debat gaan nie, want “is mans dan nie perfectly safe in koue water nie?”.

Haasbroek sê een van die hartseerstories is oor die bekende Fichardt familie van Bloemfontein wat in die eerste helfte van die 1920’s droewig getref is deur die gevolge van ’n verknoeide blindedermoperasie.

“Nadat Charlie Fichardt (NP-politikus en burgemeester) se dogter Valerie ná so ’n operasie gesterf het, het hy so oor haar getreur dat sy gestel nie ’n operasie hierna kon verwerk nie en hy gesterf het. In dié tyd het sy broer, Everard Fichardt, selfmoord gepleeg omdat sy swak gesondheid ná ’n blindedermoperasie in sy jong jare hom voortdurend geknel en hy ook aan depressie gely het.”

Nog ’n storie in die boek handel oor die vlieëweek in Bloemfontein in 1918. “Perde en osse, veral op die markplein en uitspanplekke – om nie eens te praat van huishoudings en melkerye met hul koeie op die persele – het van- selfsprekend die stad bevuil sodat publiek opgekommandeer is om die pes te beveg met sindelike gewoontes en gif . . . ”

Haasbroek sê die talle ware geskiedkundige sketse en stories rondom Bloemfontein, wat hy geskryf het en wat in koerante, tydskrifte en die museum se tydskrif Culna verskyn het, is vir die doeleindes van die boek van die rak afgehaal, nuut afgestof en saam met toepaslike foto’s aangebied.) Splinters en Dorings uit die Rosestad se verlede kos R175 en is by die Nasionale Museum, Bloemfontein, by veral Protea-boekwinkels en elektronies beskikbaar.


 Hannes Haasbroek

Dr. Hannes Haasbroek met sy boek Slinters en Dorings uit die Rosestad.