• Home
  • Histories
  • Die geskiedenis van Suid Afrikaanse swem deur Frikkie van Rensburg


DIE GESKIEDENIS VAN SUID-AFRIKAANSE SWEM


deur Frikkie van Rensburg
SA Swemjaarboek - 1971

Sedert Looper Godfrey Suid-Afrika se eerste Springbok-swemmer in 1912 geword het, het teen 1971 altesaam 88 swemmers die land in die internasionale swembad ver­teenwoordig. Nege Springbok-duikers is deur die jare gekies, terwyl 42 waterpolospelers die eer gehad het om Suid-Afrika te verteenwoordig.

Suid-Afrika het al heelwat swemmers van wêreldgehalte gelewer, maar dit sal my veroorloof word as ek net vier name uitsonder — al vier vroue!

In 1932 was dit Jenny Maakal wat op die Olimpiese Spele 'n bronsmedal-je vir Suid-Afrika in die 400 meter-vryslag verower het wat die eerste keer werklik die internasionale swemsoeklig na die suidpunt van Afrika laat draai het.
Twintig jaar later was dit 'n jong meisie van die Grens, Joan Harrison (foto onder), wat dalk vir Suid-Afrika se grootste oomblik in die swembad gesorg het deur die 100 meter-rugslag voor gedugte teenstand op die Olimpiese Spele in Helsinki te wen en daardeur Suid-Afrika sy enigste goue medalje in swem tot dusver op die Olimpiese Spele te besorg.

Weer moes ons bykans 13 jaar wag voordat ons werklik weer in wêreld-klas beweeg het. Ons het in 1965 die opkoms van Karen Muir en Ann Fairlie gehad. Karen het 17 keer op wêreldrekords in die rugslag verbeter, asook drie keer op rekords in die wisselslagnommers. Mej. Fairlie het drie keer op wêreldrekords in die rugslag verbeter.

Maar laat ons voor begin. Godfrey en Barbara Nash (1920) was Suid-Afrika se eerste Springbok-swemmers, maar dit was nie voor 1928 se Olim­piese Spele in Amsterdam, Nederland, dat ons die eerste keer met die beste kon saampraat nie. Ons vroue-aflosspan het 'n derde plek in die eindronde gekry.

In die dertiger jare het swem vinnig begin veld wen en al,meer kinders het daaraan begin deelneem. Op die Statebondspele van 1938 het dit sommer vrolik gegaan en Carla Gercke (borsslag), Terry Collard (vryslag) en ons vroue-aflosspan palm silwermedaljes in.Op die eerste Olimpiese Spele na die Tweede Wêreldoorlog is Suid-Afrika deur Desmond Cohen, Donald Johnston en Jackie Wiid verteenwoordig. In strawwe internasionale kompetisie kon dié drietal nie juis hond haaraf maak nie. Twee jaar later, op die Statebondspele in Auckland, Nieu-Seeland, het ons die opkoms van twee sterre gesien - Joan Harrison en Graham Johnston, 'n broer van die Olimpiese swemmer, Donald Johnston. Joan het 440 tree- vryslag, Jackie Wiid die 110 tree-rugslag en Johnston die 1 650 tree-vryslag in nuwe Statebondsrekords gewen. 

Op die Olimpiese Spele van 1952 het Joan Harrison toe ons enigste medalje tot dusver in die swembad verower en op die Statebondspele 1954 in Vancouver, Kanada, het ons swemmers weer hul kwota titels gewen. Joan Harrison het 'n goue en bronsmedalje gewen, Graham Johnston het in die 440 tree- en die 1 650 tree-vryslag vir mans 'n silwer- en 'n goue medalje onderskeidelik gewen, Peter Duncan, 'n silwermedalje, en Mary Morgan, 'n silwermedalje. Ons vroue-aflosspanne het in die wisselslag ('n silwermedalje) en in die vryslag ('n goue medalje) ook met die bestes afgereken. Ons mans-aflosspan het self nie op hulle laat wag nie en het 'n bronsmedalje in die 880 tree-vryslag verower.
Suid-Afrika se uitsetting uit internasionale sport het geleidelik begin toe-neem, maar vir ons swemmers was daar nog gereeld internasionale kompetisie — hoewel nie meer op die Olimpiese Spele en die Statebondspele nie. In 1958 het ons die laaste keer aan 'n Statebondspele deelgeneem, en die Olimpiese Spele van 1960 was ook ons laaste.

In 1958 se Statebondspele het ons in taai kompetisie, veral van die Aus-traliers, tog daarin geslaag om 'n paar medaljes huis toe te bring. Peter Rocchi (silwer in die 220 tree-borsslag) en Tich McLachlan ('n brons in die 1 650 tree vryslag) was die medaljewenners.

Toe breek die sestiger jare aan. Dié dekade kan dalk as Suid-Afrika se beste tot dusver in die internasionale swembad beskou word. Verskeie oor-sese spanne het die land besoek, terwyl ons Springbokke baie geleenlheid gehad het om na die buiteland te gaan. Aan die begin van die dekade, in 1962, het 'n skitterende Japanse span ons besoek en Morito Shigematsu het in een van die galas die eerste swemmer geword wat 'n wereldrekord in swem in Suid-Afrika opstel. Sy S.A. ope rekord van 2:33,4 in die 200 meter-borsslag staan steeds.

In 1963 het die Nederlandse vroue-span Suid-Afrika besoek met 'n bril-jante Ada Kok, wat in een stadium lank beide wêreldrekords in die vlinder-slag vir vroue gehou het, in hul geledere. Ons beste vroue is in 'n reeks van drie toetse oortuigend geklop, maar toe al het ons die opkoms van Ann Fairlie (onder) gesien.

In 1964 het 'n Springbok-mansspan na Europa getoer en op die Britse kampioenskapsbyeenkoms in Blackpool nege titels verower en talle Britse en Suid-Afrikaanse rekords verbeter. Geoff Grylls (vryslag) was hier dalk die beste onder die Suid-Afrikaners.

Die Wes-Duitsers het in 1965 'n draai hier kom maak, maar dit was eintlik ons besoek aan die Britse kampioenskappe, weer in Blackpool, wat die begin aangedui het van Suid-Afrika se briljante Karen Muir. Sy het op 12-jarige ouderdom die jongste wereldrekordhouer in enige sportsoort geword. Haar wêreldrekord in daardie stadium vir die 110 tree-rugslag was 1:08,7, teenoor haar huidige wereldrekord van 1:05,6. Hierdie keer het ons dertien Britse titels ingepalm en weer 'n hele rits Britse en Suid-Afrikaanse rekords opgestel.

In 1966 besoek ons manne en vroue Europa, Amerika en Kanada. In Engeland wen ons vier titels, in Amerika vier (deur ons vroue) en in Kanada ses (weer ons vroue). Karen Muir en Ann Fairlie het om die beurt op die wêreldrekord in die rugslag in hierdie stadium verbeter.

In 1967 besoek ons weer Europa en kom met 'n string titels terug. Die Kanadese, onder meer Elaine Tanner, 'n Amerikaanse Olimpiese kampioen, Cathy Ferguson wat op haar bas teen Karen Muir gekry het, en 'n Franse meisie, Kiki Caron, het aan ons nasionale kampioenskap in Johannesburg deelgeneem en talle S.A. rekords het voor hierdie groepie swemsters, en ons eie Karen Muir, geval.

In 1968 het die Kanadese vroue weer Suid-Afrika besoek en ons bestes verslaan, maar in die enigste toets in Bloemfontein het sake gelykop verloop. Op die Europese toer van 1969 het talle S.A. rekords in die slag gebly, terwyl Karen Muir haar bestaande wêreldrekord in die 100 meter-rugslag in Utrecht, Nederland, opgestel het. In 1970 het 'n gedugte Australiese swemspan Suid-Afrika besoek, die eerste toets in Johannesburg verloor, beter gevaar in die tweede op Sasolburg, maar ons goed uitgelooi in die derde in Kaapstad. In hierdie span was daar 'n swemster van die kaliber van die briljante Karen Moras, wat in een stadium die 400 en 800 meter-vryslagrekords van die wêreld gehou het.

Sedert 1968 neem ons gereeld jaarliks teen Rhodesië in volbloedtoetse deel en in 1971 het ons vroue ook hul Springbok-kleure teen die Rhodesiërs begin verwerf. Die kompetisie het ook na duik deurgewerk en verlede jaar is die eerste kragmeting tussen Suid-Afrika en Rhodesië in Rhodesië gehou. Die galas word om die beurt in Suid-Afrika en in Rhodesië gehou.

Jammer om te sê, maar die jaar 1971 was een van groot teleurstellings vir Suid-Afrikaanse swem. Ons besoek aan Wes-Duitsland in April en 'n besoek deur 'n Spaanse swemspan aan die Republiek in Januarie is weens politieke druk afgestel. Teen die einde van die jaar het die Otters-klub van Londen 'n besoek van bykans 'n maand aan die Republiek gebring en hul beste swemmers was ongetwyfeld die twee borsslag-eksponente, Mandy Radnage en Stephen Norman, wat elk net een nederlaag in nege galas op die lyf geloop het. Carmel Goodman het mej. Radnage geklop in die kragmeting teen Transvaal, terwyl Robert Hatherley in die Rhodesiese gala vir Norman getroef het.