Karen Muir - wêreld rekordhouer, dokter en ma

IN HAAR EIE WOORDE:

As ek nou terugkyk en myself die vraag stel of dit alles die moeite werd was, dan moet ek sonder aarseling JA sê. Maar ek sal nooit ‘n twaalfjarige dogter van my toelaat om op buitelandse toere te gaan nie – en tensy die akademiese stelsel in ons skole radikaal verander, sal geen kind van my so baie tyd aan sport bestee soos ek gedoen het nie.

Ek het op die ouderdom van nege geleer swem. Die volgende jaar het ek Griekwaland-Wes op die S.A Skole-kampioenskappe in Port Elizabeth verteenwoordig. Ek het aan die 110 tree-vryslag deelgeneemen HEEL LAASTE geëindig!

Miskien moes ek toe opgehou en soos ‘n normale dogtertjie groot geword het. Maar nee, afrigter Frank Gray het dit nie toegelaat nie. Op 11-jarige leeftyd het ek aan my eerste Curriebeker toernooi, weer in Port Elizabeth, deelgeneem.

SPRINGBOKSPAN

Die daaropvolgende jaar, twaalf jaar oud, is ek na afloop van die S.A Kampioenskappe in Salisbury vir die Springbokspan wat na Europa gegaan het, gekies.

Teen hierdie tyd was Suid-Afrika se wêreldrekord-baanbreker ANN FAIRLIE, reeds gevestig as ‘n groot naam in ons swem. Ann, ‘n paar jaar ouer as ek, het my in Salisbury geklop. Die volgende drie jaar sou hierdie puik Cecil Colwin-produk my verby haar eie wêreldtye in die rugslag dryf.

POPSPEEL-KIND

Die oomblik toe die vliegtuig styg, het my lewe in twee geskeur. Daar was Karen die popspeel-kind wat vir die volgende ses jaar graag elke standerd op die Hoërskool Diamantveld in die eerste klas wou slag; en daar was Karen Muir, aan die begin van ‘n uitputtende loopbaan as internasioenale swemster.

Die dag van die Britse kampioenskappe in Blackpool het aangebreek en vir ‘n vaal ou Kalahari-dogtertjie wat op beeldradio gesê het Rome herhinner haar aan Kimberley, was dit ‘n geweldige emosionele belewenis. 

WÊRELDREKORD

Aan die Olimpiese Spele kon ek toe nooit deelneem nie, maar ek twyfel of enigiets daarna ‘n groter indruk op my sou gemaak het as the Britse Kampioenskappe, my eerste groot internasioenale byeenkoms.

Ek hetmy oë styf toegeknyp toe ek werktuiglik in my eerste uitdun in die water gedons het. Van die oomblik toe die skoot geknal het, totdat ek die eindkant geraak het, was ek net van een gedagte bewus: swem, Karen, swem, swem harder swem, jy moet die finaal haal.

Alleen toe mnr. Alec Bulley my bestorm het en omhels – en daardie foto geneem is waar ek verdwaas met my fingers in my mond staan en grens – het ek geweet dat iets gebeur het. Ek moet eerlik sê dat mnr. Bulley se herhaalde versekering dat ek die wêreldrekord verbeter het, geen ingang by die twaalfjarige dogtertjie gevind het nie.

SKAAM KAREN

Skaam Karen, het hulle gesê – en dit het my net nog skamer in my dop laat kruip. Ek meen, het hulle dan verwag ‘n twaalfjarige plattelandse dogter moet wêreldwys wees?

Nou wil ek nie graag praat van opofferinge nie. As ‘n mens die hoogste sport op enige gebied wil bereik, geskied dit nie sonder opoffering nie. Daaglikse ure van inspanning en oefening in die swembad wanneer ander kinders sorgvry speel? ‘n Kind in ‘n volwassene wêreld? Kom ons laat dit liewer daar.

Die grootste opoffering was dié van my ouers. Dit is hulle wat dit vir my moontlik gemaak het om ses jaar lank vir Suid-Afrika te swem en deurgans wêreld-standaard te handhaaf.

Dit moet onthou word dat ek van elfjarige ouderdom, tot in my matriekjaar selde tuis was in die swemseisoen. Feitlik elke naweek het ek op ‘n ander dorp of stad geswem en vertonings gelewer – tot op die kleinste ou dorpies; aan kampioenskappe, provinsiaal en nasionaal, deelgeneem, teen besoekende spanne. 

End an oorsee elke April, dan terug in Mei, na warm baddens verhuis om vir die winterseisoen voor te berei, aangesien ons nie die fasiliteite in Kimberley gehad het nie. Juliemaand weer oorsee, middle Augustus terug.

SKOOLWERK

En dan moes ‘n jaar se skoolwerk skielik ingehaal word, elke en iedere van daardie ses swemjare. Net twee maande om die leerplan te voltooi - om in November dan weer in te val met ons eie swemseisoen.

Teen groot koste moes my ouers onderwysers van ander skole se hulp inroep om my met ekstra lesse eksamen-gereed te kry.

Dit is hierdie omstandighede wat daarvoor verantwoordelik is dat so baie van ons jong swemmers akademies op skool uitsak. Onhou, jy raak so baie uithuisig juis in die jare wat ‘n kind – en veral ‘n meisie, op vatbaarste is vir buiteinvloede.

Dat my ouers daarin geslaag het om my te laat koers hou – om my die eerste Springbok-swemmer te maak – so verneem ek – wat matriek in eerste klas kon slag, is hul eie wonderlike prestatsie waarvoor ek hulle nooit genoeg sal kan dank nie.

En nou gaan ek as geneesheer aan die UOVS bekwaam. Swem moes in die slag bly. En ek is ewe vasberade om Karen Muir M.D. te word as toe na wêreldrekords gemik het!


“Dit was vir my baie lekker om ‘n dokter te wees. Ek het 22 jaar lank ‘n praktyk in Ladysmith in Natal gehad. En ook in Kanada.”

Muir het Suid-Afrika verlaat omdat dit vir haar makliker was om in Kanada ‘n bestaan te maak. “Ag, en ek het gatvol geraak. Miskien wou ek ‘n ook ‘n bietjie gaan kyk hoe dit daar is”.

Swem het nie vir haar natuurlik gekom nie. “Kyk, ek was bang vir die water. Op skool het ‘n dr. Oberholtzer op Saterdae swemgalas gehou oor die breedte van die swembad. Die pryse was lekkergoed, dus het ek begin swem.